VERSLAG: WEDREN 2 Saterdag 29 Oktober 2011 was dit weereens wedrenne uit die boonste rakke. Al die klasse was ordelik en niemand het mekaar gestamp nie. So hier en daar bietjie gevryf, maar dit is deel van racing. Die toeskouers het die wedrenne geniet met die goeie getal karre wat kom deelneem het. Ons bedank graag die borge van die onderskeie klasse. 6 SILINDERS – GOODWOOD USED MOTOR SPARES Die toeskouers het vir Eddie Rasta gemis in die gewilde 6 silinder klas. Eddie se enjin het blykbaar opgepak, maar ons glo dat hy gou gaan plan maak. Rodney Esterhuizen en Rasta was gelyk met punte, maar Rasta het nou bietjie agter geraak. Ons sal graag wil sien wat hy gaan maak as sy kar reg is. Jacobus Thiart en Rodney Esterhuizen is tans gelyk met punte en is altwee in die 1ste plek. Nico Smit het ook goed bygehou by die voorste manne en is tans 2de met punte. Eddie Rasta is 3de en het baie om in te haal. Die punte in die gewilde 6 silinder klas raak nou interessant en ons moet maak kyk wat gebeur tussen Jacobus en Rodney. Die spanning loop altyd hoog as 2 drywers gelyk is met punte. V8 – MISS A RACING RAISINS Danie Sandenberg met sy swart V8 het ook probleme gekry en kon nie deelneem nie, nadat sy drive shaft gebreek het. Ons hoop om hom die volgende wedren weer hier te sien deelneem, want ons het hom gemis. Derick Taljaard het self ook 2 heats nie gery nie, aangesien sy raamwerk gebreek het. Hy het gou-gou die kar opgelaai en by die werkswinkel gaan vas sweis en was gou terug om die 4de heat en die finals te kan ry. Marius Terblanche kom blykbaar ook nou reg met sy nuwe V8, want hy ry elke wedren beter. Moet nogal ‘n aanpassing wees van 3L na V8. Duane Rademeyer kom ook lekker reg met sy V8 en die kompetisie is sterk in die V8 klas, aangesien hulle almal met Chev V8 enjins ry. 2.1 – WILLEM DE KOCK MOTORS Ons verwelkom ‘n nuwe drywer in die 2.1 klas. Rudi Viljoen kom van Worcester en het by ons klub aangesluit. Hy het nie sleg gedoen vir die 1ste keer op ons baan nie. Hy het wel probleme gekry met sy enjin. Rudi, baie welkom en ons hoop jy gaan lekker ry hier by ons. Henry Stipp het weer skoonskip gemaak met die 2.1 klas met sy B&M Ford Fiesta. Lance Churchman was in die 2de plek en ek het gehoor dat sy motor met net 3 silinders gery het. Tertius de Kock is tans 3de en hou ook goed by die voorste karre. Tertius se ouers is ook die borg vir die seisoen vir die 2.1 klas. 1660 - QUANTUM COACHWORKS, HERMANUS Johan Rossouw verras almal met sy Ford Fiesta in die 1660 klas. Hy het hierdie seisoen vir die eerste keer begin ry en is al klaar 1ste in sy klas, nadat hulle die vorige seisoen baie probleme gehad het met die kar. Marco Lambrecht het nie deelgeneem nie, en is tans 3de Jacques v Lill is tans 2de . Vossie Swart het ook bietjie gesukkel in die begin, maar het toe die finals gewen. Boeta van Wyk het die wedren vir die dag gewen. FWD – PRICE CLUB In die FWD klas het dit gekook toe Ruan van der Walt die aand gewen het. Ruan se karretjie het lekker geloop na al die probleme wat hy in die vorige wedren gehad het. Hopelik is alles nou uitgesorteer en gaan hy sonder probleme die res van die seisoen sy plek volstaan. Rowan Minord met sy Price Club Golf, het nie so goed bygehou nie, aangesien hy ratkas probleme ondervind het, maar die ratkas is reeds weggestuur om reggemaak te word en ons hoop dat hy beter gaan presteer. Hein Goede het in 2de heat vir Ruan redelik opdraande gegee toe Ruan hom nie kon verby kom nie. Hein Goede is tans 1ste en Peter Vale 2de. Andre du Toit 3de in Ruan van der Walt 4de. RWD – SP DIESELTECH - PAARL Gert Hattingh is in die stadium 1ste in die RWD klas met sy 1400 Datsun. Dirk Vermeulen jr is tans 2 de en lyk my sy karretjie se enjin is nog styf nadat die enjin oorgedoen is. Hou hom maar dop die volgende wedren as alles los en ingeloop is. Lyk my die laities gee die ou manne maar opdraende in die verskeie klasse. Eric Booker is ook terug in die Rwd klas nadat hy die vorige wedren saam met die motorcar klas gery het. Sarieska Kellerman, wat Daniel de Kock se kar gekoop het, het nog nie kans gehad om in haar nuwe karretjie deel te neem nie. Haar kar se streering arm het gebreek terwyl haar pa die kar vir haar getoets het, en met die muur kennis gemaak het. Blykbaar is die kar herstelbaar en sal ons haar hopelik die volgende wedren sien. KORT NOG ‘N BORG VIR DIE SEISOEN In die Motorcar klas het Douw Vermeulen die dag gewen. Douw van Scheltenga is tans 1ste met punte en Douw Vermeulen 2de. Harry Booker is 3de en het ook met die harde muur kennis gemaak JP Eksteen neem ook deesdae in die Motorkar klas nadat hy sy Golf aan Spanner Vermeulen verkoop het. JP het vir hom ‘n Ford Escort aangeskaf en word glo die “Groen Mamba “ genoem. Ons hoop dat hy nou meer geluk met die Ford gaan hê as met die Golf, en dat hy dit gaan geniet in die klas. INDIEN U BELANGSTEL OM HIERDIE KLAS TE BORG, KAN U MET DIE KOMMITEE SKAKEL. DIE KOSTE IS NET R400 PER WEDREN. Marietjie Rix |