NUUS‎ > ‎

19 November

posted Dec 19, 2011 10:54 AM by Okkie van Breda   [ updated Dec 19, 2011 10:54 AM ]
VERSLAG: WEDREN 3
Hoe anders beskryf ‘n mens die wedren van Saterdag 19 November 2011 as “KOKEND!!!”

Die een persoon wat sy hande vol gehad het was die COC Werner Visser. Hy het rond gehardloop, geskel en gestraf, en was amper met ‘n pak slae van ‘n mielie gestraf, en teen prys uitdeling was Werner “kapoet” Net ‘n paar koue biere kon sy hartklop en senuwees tot bedaring bring. Daar was ‘n paar stoute drywers wat gestraf is en sommiges het waarskuwings gekry, maar almal is dit eens dat dit die beste wedrenne nog ooit was.

Die Motorkar klas, RWD en FWD was die opwindendste van almal. Dit was “close racing” en presies soos die toeskouers daarvan hou. Daar was gewedywer vir plekke en soms gevryf en gestoot om voor te kom. Dit is nou maar “wors” As jy nie Saterdag 19 November se wedrenne bygewoon het nie, het jy baie gemis.

Dit het begin by die Motorcar klas en ge-eindig by die 6 silinders. Die benadeeldes het oorlog verklaar teen die skuldiges en mekaar op die baan uitsorteer (of dit is hoe dit vir my gelyk het), maar dit is wat die toeskouers wil sien. Hulle wil nie wetstoepassing op wedren bane sien nie. Hulle soek aksie en die stof en stukke moet trek, dan was dit vir hulle lekker wedrenne. As die wedrenne elke rondte so vlot verloop soos altyd, raak dit vervelig vir sommige toeskouers en dan gaan hulle sommer gou huis toe.

Ongelukkig is dit die slagoffers van ongelukke op die baan se eie skade en kos dit baie geld om herstelwerk te doen, en daarom is die reels dat geen stampe en stote toelaatbaar is nie.

Ons het toe besluit wat toeskouers soek gaan ons vir hulle gee op 17 Desember 2011, wanneer Bredasdorp Motorklub sy jaarlikse Midas Gedenkwedren aanbied. BANGERS!!!! Is die antwoord op die bloeddorstige toeskouers wat wil sien hoe karre stukkend gery word. Stukke gaan waai, rook gaan trek, enjins gaan blaas en bande gaan bars en as dit nie gebeur nie, ry hulle jou kar so stukkend dat hy nie meer verder kan loop nie. Aksie op sy beste vir die eerste keer hier net in Bredasdorp. Die andrenalien gaan pomp in die are en die skares gaan skreeu van plesier (of skel van kwaad geit)

Die voeltjies fluit dat Rasta ook weer met sy big six gaan kom “Drift” om die andrenalien verder te laat ontplof in die are. Rasta is al ‘n Icon hier in Bredasdorp en is een van die gewildste ovaalbaan drywers wat seker nog ooit in Bredasdorp gery het. Verseker gaan die rook trek en gaan die bande bars as hy so gly-gly om die baan kom. Wanneer die 6 Silinders by die kuipe hek uitkom, staan die mense wat gesit en gele het gewoonlik regop en pak die drade toe om vir hom te skree.

GOODWOOD USED MOTOR SPARES borg die BANGERS en gaan ook weer vuurwerke na die wedrenne skiet.

Kom vroeg om plek te kry en kom geniet al die aksie. Die hekke open reeds om 08H00 en die wedrenne begin 15H00.

Marietjie Rix